Na die groot voorreg om deel te wees van die BeKoor Fees by die Grand West Arena, is die Libertaskoor oorval met gelukwense en boodskappe van waardering. Dit was inderdaad besonders om voor ‘n gehoor van 5000 mense op te tree en boonop die geleentheid te deel met Olimpiese Kampioen Kore.
Die Libertaskoor is egter reeds besig om te werk aan hul volgende groot projek. Die Kanna-bekroonde regisseur Basil Appollis wil met sy nuwe musiekblyspel, The Choir/Die Koor: The Libertas Story, die menslike verhale agter die Libertaskoor vasvang.
Appollis hou die koor reeds die afgelope jaar dop om stories vir die produksie bymekaar te maak.
“Ek wil die storie van julle koor vertel. Dit moet ’n viering van julle 25 jaar op die verhoog wees. Ek voel julle koor is soos ’n spieëlbeeld van ons land,” sê hy by die oefening vir die koorlede. Die koor gaan die meeste van die tyd sing, maar ’n paar koorlede sal as akteurs ook ingespan moet word.
Die produksie sal teen einde November in die Stellenbosse Oude Libertas-amfiteater te sien wees.