Geskryf deur Ida Wilson 

Ons deel graag hierdie kort storie met toestemming van Ida, een van ons koorlede:

” Toe ek in Pretoria gebly het, in 2000, het ek die Libertaskoor erens gesien of gehoor. My eerste gedagte was dat dit darem ongelooflik sal wees om in daardie koor te sing. Ek was jonk werkkend en het in ‘n kerk koor gesing (saam met tannie Maud – sy was 80).

Ek beland 5 jaar later in Stellenbosch en kontak dadelik vir Louwina, maar die oudisies vir die jaar is verby. Ek sing vir ‘n jaar by die Tygerbergse stadskoor. Einde 2005 ontvang ek ‘n epos wat my nooi vir ‘n oudisie. Ek is so opgewonde en bang. Ek sing al die pad in my wit 1990 Golfie. (Ek dink die klavier het op ‘n ander plek gestaan). Johan toets my stem sorgvuldig, toonlere, ook my gehoor en aan die einde sing ek ‘n gesang. Ek is ‘n senuweeagtige mens van aard, so in oudisies kry my nerves dikwels die beter van my. Met my bene wat nog bewe ry ek terug huis toe. Die oudisie was ok, maar ek dink nie ek moet my hart daarop plaas dat ek sal slaag nie.

Ek berei myself sielkundig voor vir “slegte” nuus. Toe Louwina bel, voel ek ek sal verstaan as ek dit nie gemaak het nie. Haar woorde is baie teenoorgesteld van my gedagtes. Ek kan maar kom sing!!! Rerig???? Jippie! Ek is stomgeslaan oorweldig en ekstaties!

Ek wonder of ek sal in pas by die koor … met my eerste oefening tref iets my dadelik. Die koor is soos die klein beertjie se pap. Nie te klein nie (soos die kerkkoor nie). Nie te groot nie (soos sommige konsertkore waar ek ook gesing het), maar “net reg”. Daardie aand vertel ek vir my man “it is as if I have come home”. Ek is 30 jaar oud en sing vir 20 jaar koor, en hier, vir die eerste keer sing ek in ‘n koor waar “alles net reg (just right) is”. Die eerste koor kamp oorweldig my. Sjoe! Ons moet van die blad af sing!

Die nuwe musiek is ‘n groot pak papier, en daar is “iets van alles” daarin. Selfs Xhosa liedjies met die bewegings daarmee saam! Ek is lief vir gesange, maar dis so vervrissend om nie net godsdienstige liedere te sing nie. Ons moet konsert hou vir die ou lede – dis nou die “nuwes”. Dit is groot pret! Ek lag meer in een aand as in die hele jaar! Ek voel dadelik deel van die koor. Maak ook nie saak hoe ver jou hart of lyf ooit weg beweeg van die koor af nie, daar is ‘n stukkie in jou hart wat vir ewig aan die koor behoort.

Ek is so dankbaar dat ek na ‘n 5 jaar breuk weer kan sing. Vrydagaand in die Ender, so deur die musiek en die applous deur dink ek aan my eerste wens en droom … Pretoria, 2000.

Dis 15 jaar later. Soms wil ek myself steeds knyp om seker te maak dis regtig waar.”